Gehalte-onderrig is een van Sol-Tech se suksesresepte – maar sonder Ajani sou dit nie die nodige impak hê nie. Ajani is ’n maatskappy wat die plasing van afgestudeerde studente in ambagsposte hanteer, en wat uitsluitlik saam met Sol-Tech werk om Sol-Tech se studente in die industrie met werk geholpe te kry.
“Danksy André Vermaak, uitvoerende direkteur van Ajani, en sy span se insette, vaar Ajani-plasings uitstekend. Buiten die bestaande databasis van werkgewers ontvang Ajani al meer navrae van maatskappye wat spesifiek Sol-Tech-opgeleide studente vir aanstellings versoek,” het Paul van Deventer gesê.
Daar is ook talle versoeke van ander opleidingsinstellings wat wil hê dat Ajani dieselfde diens aan hulle moet bied, aangesien dit oor die algemeen ’n uitdaging is om studente by werkgewers geplaas te kry. Ajani se diens is egter eksklusief aan Sol-Tech – dit maak dit een van die sterkste mededingende voordele wat Sol-Tech kop en skouers bo mededingers laat uitstaan.
Die plasingsukses van Ajani verbeter jaarliks. Die meulmaker-, pas-en-draai-, gereedskapmaker- en sweisgroepe wat hul opleiding by Sol-Tech onderskeidelik in Mei en Junie vanjaar voltooi, is reeds almal by werkgewers geplaas. 50% tot 70% van die diesel- en elektriese studente wat steeds besig is met opleiding is ook reeds geplaas. Daar is selfs al navrae ontvang oor meulmaker- en pas-en-draai-studente wat eers in September en Oktober klaarmaak.
Van Deventer voeg by dat ’n vooraanstaande landbou-organisasie in Noordwes ook onlangs kom aanklop het vir studente. “Hulle was ook buitengewoon beïndruk met ons werkwinkels en toerusting.”
Solidariteit Tydskrif het André Vermaak, uitvoerende direkteur van Ajani, ’n paar vrae gevra:
Waaraan kan Ajani sy sukses toeskryf?
Ajani se sukses word eerstens toegeskryf aan die feit dat ons ’n goeie “produk” van Sol-Tech af kry waarmee ons die mark kan nader. Die produk waarna verwys word, is topgehalte-studente wat met moderne vaardighede op moderne toerusting deur van die land se beste lektore bemagtig is. Hierdie kennis en vaardighede wat die studente ontvang het, is die hoofrede waarom daar ’n aanvraag vir Sol-Tech se vakleerlinge in die arbeidsmark is. Tweedens het Ajani tans ’n werkgewersdatabasis van bykans 800 en ons het baie goeie verhoudings met al ons werkgewers.
Waarom stel werkgewers hierdie studente aan?
Werkgewers stel Sol-Tech se studente aan omdat hulle oor die kennis en vaardighede beskik om dadelik ‘n positiewe bydrae tot die werkgewers se operasionele vereistes en behoeftes te kan lewer, asook die feit dat die vakleerlinge se diens ononderbroke by die werkgewers plaasvind. Hierdie studente is ook gemotiveerd en in ’n goed gedissiplineerde omgewing opgelei.
Kom die werkgewers gereeld terug om nog studente aan te stel?
Daar is in hierdie stadium ongeveer 240 werkgewers wat op ’n gereelde basis nuwe studente in diens neem. In die meeste gevalle word onderhoude gevoer reeds maande voordat die studente se studies voltooi is. Daar is werkgewers wat groot groepe studente aanstel; soms so baie soos agt tot 12. Ons is onlangs deur ’n maatskappy in die Noord-Kaap gekontak wat juis binnekort onderhoude kom doen en 14 vakleerlinge gaan aanstel.
Wat is jou droom vir Ajani en Sol-Tech?
My droom vir Sol-Tech en Ajani is dat ons saam sal groei en soos vennote sal funksioneer. Ek wil graag sien dat ons uitstaan as, eerstens, die enigste topgehalte- Afrikaanse beroepsopleidingskollege in Suid Afrika en, tweedens, dat ons sal aanhou om ’n suksesvolle plasing vir elke Sol-Tech-student te bewerkstellig. Met hierdie droom is ons werk ook nie afgehandel indien elke student wat by Sol-Tech studeer het, se vaktoets nie suksesvol geslaag is nie.
Oops! We could not locate your form.