Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia het op Vrydag 31 Augustus 2018 ’n eerste kwalifikasie in geesteswetenskappe bekendgestel tydens ’n eksklusiewe byeenkoms in Centurion. Hierdie kwalifikasie – BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie) – sal vanaf 2019 by Akademia se 13 studiesentrums aangebied word.
Akademia se toetrede tot ’n geesteswetenskaplike rigting is ’n besonderse prestasie, aangesien dit deel vorm van die instelling se toekomsplanne om na meer studierigtings uit te brei wat beide die toegepaste en die geesteswetenskappe insluit.
“Akademia as relatiewe jong hoëronderwysinstelling poog om aan die voorpunt van bedryfsrelevante kwalifikasie-ontwikkeling te wees, om studente vir ’n snel veranderende en ingewikkelde werkplek voor te berei,” het dr. Saretha Brüssow, dekaan van die instelling, verduidelik.
Die samesnoering van vakdissiplines soos politiek, filosofie en ekonomie het reeds oor die afgelope honderd jaar op internasionale vlak gewild geraak. “Waar ons programaanbod voorheen net op die ekonomiese wetenskappe gefokus het, dui die toetrede tot die geesteswetenskaplike veld op ’n begrip van die sosiale aspekte van die werklikheid,” het Brüssow gesê.
Die uniekheid van die BSocSci-kwalifikasie is dat dit ’n kombinasie van drie selfstandige studierigtings (politiek, filosofie en ekonomie) in een kwalifikasie daarstel.
In die voltooiing van hierdie kwalifikasie leer studente dat politiek, filosofie en ekonomie met mekaar vervleg is. Deur só ’n geïntegreerde benadering te volg, word professionele aanpasbaarheid verhoog en is meer werkmoontlikhede beskikbaar.
“Hoewel ekonomie as dissipline bedryfsrelevant is en sakelui vir die werkplek voorberei, is daar ’n tendens om werknemers met ’n filosofiese en politiese agtergrond in diens te stel, aangesien die multidissiplinêre benadering kritiese denke ontsluit,” het Brüssow gesê.
Die veelsydigheid van hierdie graad skep geleentheid vir die afgestudeerde student om ’n keuse van beroepswêrelde oor verskeie velde te betree, insluitend politiek, joernalistiek en die bankwese.
Studente wat hierdie kwalifikasie voltooi, stap weg met ’n breë begrip van die wêreld waarin hulle leef, en sal oor die nodige kennis en vaardighede beskik om uitdagings van die moderne besigheidswêreld vierkantig in die oë te staar.
Besoek Akademia se webblad by www.akademia.ac.za vir meer inligting.
Oops! We could not locate your form.