Akademia spog daarmee dat haar BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie geakkrediteer is deur CIMA (Chartered Institute of Management Accountants), die grootste vooraanstaande professionele liggaam vir bestuursrekenmeesters in die wêreld.
“CIMA se internasionale erkenning beteken dat Akademia se huidige en afgestudeerde BCom (Bestuursrekeningkunde)-studente sekere vrystellings ontvang om sodoende makliker en vinniger hulle professionele lidmaatskap by CIMA te bekom,” verduidelik Rika Nieuwoudt, programkoördineerder van hierdie kwalifikasie. “Die voordele van 'n versnelde roete tot die professionele CIMA-kwalifikasie hou eindelose geleenthede vir graduandi in om hulle relevant te posisioneer in die werksplek.”
Akademia se BCom (Bestuursrekeningkunde)-graad word sedert Januarie 2015 aangebied en is ontwikkel om belyn te wees met die inhoud van die internasionale CIMA-program. “Dat hierdie graad deur 'n internasionale liggaam geakkrediteer is, bevestig weereens dat ons afgestudeerdes goed voorberei word vir 'n toekoms as professionele bestuursrekenmeesters,” voeg Nieuwoudt by. Boonop het die instelling ook die hoogste vrystelling vir die voorgraadse kwalifikasie in die Suid-Afrikaanse hoëronderwysveld behaal.
Dit is opvallend dat Akademia haarself in 'n relatiewe kort tydperk as uitnemende vakaanbieder onderskei het en reeds internasionaal gereken word. “Ons is ongelooflik trots op hierdie prestasie, veral omdat dit nou eers ons sewende bestaansjaar is”, verduidelik Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling. Dit is 'n groot voorreg om 'n voorkeurvennoot van 'n internasionale professionele liggaam te wees. Ons sien uit om ons aanbod in bestuursrekeningkunde mettertyd saam met ons akademiese en bedryfsvennote verder uit te brei tot selfs nagraadse studies in hierdie veld.”
BCom (Bestuursrekeningkunde) word tans by Akademia se dertien studiesentrums – landswyd en in Namibië – aangebied. Aansoeke vir studies in 2019 is nog oop tot 19 Januarie 2019. Vir meer inligting oor hierdie graad en Akademia se onderrigleermodel, besoek www.akademia.ac.za, stuur 'n e-pos na navrae@akademia.ac.za of kontak 0861 222 888.
Oops! We could not locate your form.