Dit is bykans tien jaar gelede dat daar begin werk is aan die vestiging van 'n selfstandige Afrikaanse universiteit. Hierdie groot projek is aangepak teen die agtergrond van voormalige technikons se samesmelting met universiteite onder leiding van die destydse minister van hoër onderwys, Kader Asmal. Die gevolg van hierdie samesmeltings was dat minder Afrikaanse studente by die voormalige technikons gaan studeer het. In daardie stadium was daar reeds tekens van transformasie by universiteite, hoewel daar nog nie sprake van iets soos 'n “Fees Must Fall”-beweging was nie.
Die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, het reeds in die middel 90’s daarop gewys dat daar belangrike voorwaardes is vir die Afrikaanse gemeenskap om vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika te kan bestaan. Gehaltemediesesorg, veiligheid en onderwys is maar enkele voorbeelde hiervan. Buys het toe reeds aangevoer dat ons as gemeenskap hard moet werk om dit self daar te stel, omdat hy toe reeds voorsien het dat ons nie hierdie belangrike taak aan die staat alleen kan oorlaat nie.
Sol-Tech is in 2008 deur Solidariteit op die been gebring en is vandag 'n suksesverhaal. Vier jaar later maak Akademia haar deure oop. Gesien in die konteks van die tyd was hierdie 'n versiende projek – openbare universiteite in Stellenbosch, Bloemfontein, Potchefstroom en Pretoria het in daardie stadium steeds Afrikaans as onderrigtaal gebruik.
Vandag is ons baie dankbaar dat ons reeds in 2012 begin het. Twee gebeure in die geskiedenis van hoër onderwys het die Afrikaanse gemeenskap in die koue gelaat. In Desember 2015 begin die “Fees Must Fall”-beweging, en kort daarna neem die meeste voormalig Afrikaanse universiteite 'n taalbeleid aan wat wegdoen met Afrikaans as onderrigtaal. Albei hierdie gebeure het die Afrikaanse gemeenskap – en veral Afrikaners – tot 'n groot mate vervreem van die openbare universiteitswese. ’n Mens kan maar net dink hoe fataal hierdie gebeure vir ons sou wees as ons nie reeds in 2012 'n alternatief op die been gebring het nie.
Vandag het ons 'n instelling, naamlik Akademia, wat geregistreer en ten volle geakkrediteer is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, asook by die Raad op Hoër Onderwys.
Nou, in die sewende bestaansjaar, groei ons teen 'n vinnige pas en word Akademia se aanbod jaar ná jaar groter en beter. Vandag bied ons reeds sewe kwalifikasies aan deur 'n hoogs doeltreffende onderigleermodel wat die nuutste onderrigleer- en kommunikasietegnologie inspan ter ondersteuning van studente. Vanaf 2019 bied ons ons eerste kwalifikasie in die geesteswetenskappe aan (lees ook die artikel op bladsy 65). Die toetrede tot 'n geesteswetenskaplike rigting is 'n besonderse prestasie vir Akademia, aangesien dit deel vorm van ons toekomsplanne om na meer studierigtings uit te brei, wat die toegepaste en geesteswetenskappe insluit.
Studente woon kontaksessies by in een van dertien sentra landwyd en in Namibië, en word deur die mees toepaslike metodes betrek by leerprosesse deur ons moderne aanlyn leerder-ondersteuningstelsel. Ons akademici is hoogs ervare om leer in hierdie hoëtegnologie-leeromgewing te fasiliteer, en om kontaksessies op 'n innoverende wyse aan te bied.
Ons is veral baie opgewonde oor twee nuwe kwalifikasies wat onlangs geakkrediteer is en in 2020 sal afskop. Beide die LLB- en BCom Rekeningkunde-grade is in groot aanvraag in ons gemeenskap en ons sien baie daarna uit om dit aan te bied.
'n Verdere hoogtepunt vir Akademia is die splinternuwe baadjie wat vroeër vanjaar aangetrek is, wat spreek tot ons vernuwende toekomsplanne. Dié planne sluit onder meer in om meer studente toegang tot gehalte-onderrig in hul moedertaal te gee deur 'n omvattende residensiële kampus op te rig. Die kampusmodel sal studente die geleentheid bied om voltyds in Afrikaans te studeer terwyl hulle 'n gesonde studentelewe kan ervaar. Hier sal ongeveer veertig kwalifikasies in sewe fakulteite aangebied word. Agt van hierdie kwalifikasies is reeds ingedien vir akkreditasie en as alles goed afloop, sal ons reeds in 2020 met die eerste fase van 'n kontakmodel op kampus kan begin.
Om 'n universiteit op die been te bring, vereis twee belangrike hulpbronne: tyd en kapitaal. Danksy die feit dat ons reeds in 2012 begin het, glo ek dat ons wel tyd aan ons kant het. Dan is daar die groot daad van donateurs wat in baie onsekere tye in die saak geglo het, en steeds glo, en groot bydraes maak om die kapitale uitdagings die hoof te bied. Een so ‘n bron verdien vermelding, en dit is die afsonderlike bydraes van elke Solidariteit-lid wat saam 'n deurslaggewende verskil maak. Akademia is as gevolg hiervan waarlik 'n instelling uit die gemeenskap, vir die gemeenskap.
Akademia beoog nie om bloot die universiteitswese wat baie van ons en ons ouers geken het, weer te laat herleef nie, maar om selfs nóg meer as dit te bereik. Ons voorsien 'n universiteit wat nie net wêreldklasopleiding aan ons gemeenskap bied nie, maar wat ook die klassieke rol van die universiteitswese vervul – om jongmense tot intellektuele, emosionele en lewensbeskoulike volwassenheid te bring. Ons werk onophoudelik in geloof, hoop en liefde om dít vir ons gemeenskap tot stand te bring.
Oops! We could not locate your form.