Dit is met groot opgewondenheid dat Solidariteit aankondig dat die nasionale inperking nie gaan verhoed dat die Sol-Tech Beroepsopleidingskollege se nuwe kampus in 2021 sy deure sal oopmaak nie.
Bouwerk is weer in die tweede week van Junie hervat en volgens die besturende direkteur van Sol-Tech, Paul van Deventer, is die bouers vinnig besig om tyd in te haal en behoort hulle teen Desember steeds op die nuwe kampus te kan intrek. Hy noem dat die grootste bouwerk en konstruksie reeds voltooi is, waarna die fynere afwerkings en binnewerk voltooi sal word.
Van Deventer meen alles vorder goed en die eerste studente sal dus op 1 Februarie 2021 met beroepsgerigte opleiding op dié kampus, wat uit wêreldgehalte fasiliteite bestaan, kan begin.
Die kampus sal dit moontlik maak vir Sol-Tech om saans tot 22:00 klasse aan te bied en die kursusaanbod word ook uitgebrei na ’n groter verskeidenheid ambagte en meer beroepsgerigte opleiding sal ook aangebied word.
Hierdie projek wat ongeveer R300 miljoen beloop word deur die gemeenskap befonds deur bydraes wat aan Solidariteit se Boufonds gemaak word. Die ontwikkeling van die nuwe Sol-Tech-kampus word deur Kanton, die Solidariteit Beweging se nuwe eiendomsmaatskappy behartig.
Die Boufonds is deur Solidariteit gestig omdat Solidariteit glo dat kennis die beste manier is om sy lede in die nuwe, onsekere ekonomie te beskerm. Die Boufonds het juis ten doel om na die behoeftes van jongmense om te sien, want die wat wil werk, moet werk!
As ’n Boufonds-lid ondersteun jy Solidariteit met die bou en uitbreiding van instansies soos Sol-Tech en Akademia. Die fondse wat deur die Boufonds ingesamel word is ’n vrywillige bydrae. Dit sluit wel die voordele van volledige Solidariteit-lidmaatskap uit, maar bied aan jongmense die geleentheid om kwaliteit onderrig in Afrikaans te ontvang. Jou bydrae bring ’n jongmens ’n stap nader aan ’n vry, veilig en voorspoedige lewe en op dié manier #Bou jy om te bly!
Solidariteit wil jou graag aanmoedig om jou vriende en familie te nooi om deel te word van die Solidariteit-gemeenskap deur ’n bydrae aan die Solidariteit Boufonds te maak.
Om ’n bydrae te maak, besoek gerus die volgende skakel: http://boufonds.solidariteit.co.za/bydrae/
Solidariteit bou aan ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms. Kom bou saam aan jou eie toekoms!
Oops! We could not locate your form.