“Waar kan ek ook een van daardie wit kieries kry waarmee almal hier rondloop?” wou talle besoekers aan Graan SA se onlangse Nampo-skou weet. Dié wit “kieries” is oral op die skouterrein opgemerk en nuuskieriges en belangstellendes is sonder omhaal in die rigting van Sol-Tech se stalletjie gestuur.
Die hoofdoel van Sol-Tech se uitstalling was natuurlik om die opleiding wat ons in sewe ambagsrigtings bied, bekend te stel, maar as beroepsopleidingskollege het ons ook nuwe horisonne verken wat betref behoeftes en geleenthede om die landbousektor tot diens te wees. Dit was verrassend om te verneem dat selfs jong afgestudeerdes uit ander beroepsvelde navraag gedoen het oor Sol-Tech se gehalte-ambagsopleiding en die werkgeleenthede wat dit bied.
Landbou bly die lewensaar van die Suid-Afrikaanse ekonomie en vervul ’n kernbelangrike rol. Boere is deurlopend in ’n reusestryd gewikkel, veral met die afgelope droogteseisoene agter die rug. Met laer marges moet boere elke jaar slimmer en doeltreffender werk om die pot aan die kook te hou. Meganisasie en nuwe tegnologie soos presisieboerdery is noodsaaklik om boere mededingend te hou, maar moderne toerusting kos ’n plaas se prys en om dié masjiene te gebruik en te onderhou, is ’n uitdaging en ’n kuns op sigself.
Sol-Tech het reeds in die verlede hande met die landbousektor gevat deur trekkerwerktuigkundiges op te lei, maar wil nou ’n verdere bydrae lewer deur opleiding aan jongmense te bied wat hulle in staat sal stel om geleenthede in die landbousektor aan te gryp. Dit is nie beperk tot algemene instandhoudingswerk op tegniese gebied nie, maar sluit moontlik in die bedryf van hoëtegnologie- en presisietoerusting op plase.
Vooraanstaande boere het reeds aangedui dat hulle sou belangstel in die dienste van mense wat oor sulke kundigheid beskik. “Dit is vir ons duidelik dat daar ’n groot behoefte bestaan aan ’n breër aanbod van beroepsgerigte opleiding in onder meer die landbousektor, en ons is vasbeslote om hierdie gaping daadwerklik te begin vul,” het Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, gesê.
“Ons doel is om jongmense indiensneembaar te maak. Ons is reeds baie suksesvol hiermee in die tegniese ambagsrigtings en ons hoop om binnekort dieselfde sukses met ander beroepsgerigte opleiding te behaal.”
Elke foto vertel ’n storie
“Sien is glo.” Só lui die bekende Afrikaanse spreekwoord. Sol-Tech se reputasie as top- tegniese kollege in Suid-Afrika is reeds alombekend. Daar is tydens opedae ongekende belangstelling in die kursusse wat dié opleidingsinstansie bied. Ons opleiding is aktueel en modern en studente kry werk na afloop van hul opleiding. Die slaagsyfer in die finale vaktoets is 96% en werkgewers besing Sol-Tech se lof vir die gehalte-opleiding wat hy bied. Sol-Tech se lektore is meesters op hul gebied en die sukses wat studente ná hul studies behaal, spreek vanself. (Lees ook die artikel op bladsy 12.)
Solidariteit se span fotograwe het onlangs by Sol-Tech ingeloer. Die foto’s wat geneem is, vertel die storie van Sol-Tech se sukses.
Die foto’s wys lektore wat passievol oplei; jongmense wat oor spesialiskennis en vaardighede beskik; karaktervorming en begeleiding wat op persoonlike vlak plaasvind. Die foto’s vertel die storie van studente wat ure lank nougeset nuwe vaardighede inoefen, van vriende wat mekaar help om tegnieke baas te raak en veral van ’n kollege wat tot ’n professionele instelling gegroei het – blink vloere, blink toerusting en blink oë. Vriendskap en pret. Harde werk en deursettingsvermoë.
Sol-Tech se bydrae strek inderdaad veel verder as net die verskaffing van tegniese opleiding. Dit verskaf professionele beroepsopleiding. Sol-Tech neem jong manne en vroue en vorm hulle tot suksesvolle beroepslui wat die wêreld van werk met selfvertroue kan aanpak.
Sol-Tech se volgende opedag is om die draai.
Datum: 8 September 2018
Tyd: 08:00 vir 08:30
Plek: Sol-Tech se kampus, Maliestraat 1 662, Kirkney
Bring saam: Gesertifiseerde afskrifte van jou ID-dokument en alle kwalifikasies
Bevestig jou bywoning op Sol-Tech se webtuiste: www.sol-tech.co.za
Oops! We could not locate your form.